Skryf

Om Te Skryf

Ek het geskryf. Lank voordat ek foto’s geneem het.

Ek het geskryf as ek ‘n hond verloor het. As ek span gemaak het. Of nie.

Ek het geskryf as ek op was. As ek af was. Dit was ‘n coping mechanism lank voordat ek geweet het wat dit beteken om te cope.

Iewers het my Ma my oorreed om ‘n kaartjie te maak en vir iemand ‘n rympie te skryf.

Dit was ‘n hit.

My taal punte op skool was nooit wat wonders nie. Die eenkeer wat ek ‘n kort verhaal geskryf het met ‘n punt om op trots te wees het die juffrou my agter gehou en gevra waar ek dit afgeskryf het.

Ek het nog meer gaan skryf – in die talle leë boeke in my kamer. Geskrifte wat nooit die lig sal sien nie. En tieners het nogal baie om oor te skryf. Nie lewens belangrik nie, maar baie om deur te werk.

Ek het aanhou skryf, reg deur Universiteit. Ek wou ‘n marine bioloog word, maar iemand het gevoel ek moet maar ‘n onnie word. Dit wou nie werk nie. Dit het net nie aan my hart geraak nie en so het ek aanhou skryf.

Iewers was die skryf nie meer genoeg nie en moes ek nog iets kry om te kon cope met als wat ek om my sien gebeur het. Ek het ‘n kamera opgetel en begin vriende afneem. Die Burger het destyds ‘n weeklikse bylaag gehad met baie interessante biografieë. Ansel Adams se foto’s het my aagegryp en vir ‘n baie lang tyd het ek my pen gebêre.

So met tyd het ‘n hobbie my werk geword. Foto’s is nou meer as net my coping mechanism. Dit moet nou botter op my brood sit. Vir ‘n lang tyd was dit my enigste go-to metode om te cope. (Behalwe vir die liters koffie wat ek ook ingeneem het…). Met die aanvang van covid het die aanvraag op my foto’s oornag verdwyn en daarmee saam my manier om te cope. Ek het weer begin skryf. Bladsye vol. En asdromme vol. Ek het geskryf oor alles waarmee ek sukkel. Dit gedeel waarvoor ek kans gesien het. Die res het iewers in ‘n laai beland. In ‘n naamlose folder.

Ons is nou aan die herstel na covid, maar my hoof coping mechanism het in die dam geduik. Die botter op my broodjie is nou skraps. Flip, ek het myself begin vertel mens kan brood sonder botter eet. So nou hou ek maar aan skryf. En hoop vir die beste.

Ek dink steeds nie my skryfstukke sou A-kandidate gewees het nie– ek skryf immers met my hart en ‘n paar kommas en punte tussen-in. Maar wat ek hoop, is date ek iewers iemand kan motiveer. Kan ek vir iemand sê – hou aan. Moenie ophou nie. Probeer weer. Verander jou angle. Gaan soek jouself, maar moenie ophou nie. Moenie omdat die tannie onder-in die straat jou nooit groet nie, glo jy is nie groet-baar nie. Moenie omdat iemand anders jou botter van jou broodjie afgehaal het, glo dit is hoe mens broodjies moet eet nie. Moenie opgee nie. En as jy rerig nie meer weet hoe om een voet voor die ander een te sit nie, kom drink ‘n koffie dan verander ons saam jou angle en vind weer die botter op jou broodjie.

En so wil ek dan vanaand sê – my studio is reg. Cake Smashes, Newborns, en fun studio foto’s vir kinders onder 10 is welkom.Ek is besig om my angle te verander… Are you ready?

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post