Rocco | Harte dief met die skaam Glimlag

Super hero in the Making

Rocco,

As ek oor jou skryf, dan raak ek sommer onmiddelik tranerig. Ek moet mooi dink om my gedagtes agter mekaar te kry, maar ek probeer nietemin.

Jou koms, net soos Alexander sin, was nie maklik nie. Ek het swaar getrek en heerlik verby 40 weke gewaggel. Eie aan my geaardheid, was ek op ‘n middag net moeg gewag en drink toe ‘n bottel kasterolie uit. Ek het onmiddelik geweet hoekom Oupa Johan vandag nog walg as hy net die woord “kasterolie” hoor. O Vadertjie, dis sleg!! Ek het sommer vinnig begin badkamer toe hardloop en gewonder of Pappa betyds uit Windhoek gaan wees waar hy hout gaan haal het. Iewers gedurende die vroë oggend ure toe weet ek, hierdie is nie meer maag krampe nie… dis nou sulke tyd… ‘n hele paar ure het jy jou eerste skree gegee. Seker die mooiste geluid wat ek nog ooit gehoor het. Toe ek my oë oopmaak en vir jou in Pappa se arms sien, was my hart propvol.

Van baie kleins af het ek geweet jou kop werk anders as ander seuntjies sin. Jy het nog nooit regtig belang gestel in ‘n bal van enige kleur of grootte nie. Dinosaurs het jou verveel en diere is daar om beskerm te word, nie gejag te word nie. Jy sou ook maklik jou vleis opgee om jou punt te bewys. Maar die dag toe ek vir die eerste keer hout blokkies voor jou neersit – toe skitter jou groot-groot ogies. Hier was iets wat jou geīnteresseer het.

Ons het van hout blokkies opgeskuif na Dublo Blocks… hier was ons maar kort, want iewers was ons by ‘n groter maatjie met LEGO en toe is jou wêreld volmaak. En ons is nog steeds hier. Jy spaar nou vir ‘n LEGO motor wat jou designs kan lewe gee.

Jy het nie soos ander kinders ingekleur nie. Inteendeel, jy kleur nog steeds nie in nie. (Behalwe tannie Hettie se baie ingewikkelde inkleurprente wat meer soos kunswerke lyk as inkleur prente). Jy wil teken, beplan en dan gaan bou jy. Hier in my laaie lê stapels papiere met jou designs op. Van bote en space ships na laboratiums en krag stasies.

Ernstig soos Pappa (en seker maar Mamma ook), is jy soms Ouboet, pappa en mamma vir Alexander. Jy dink Pappa is die heel slimste mens op aarde en Mamma die heel beste fotograaf. En ek bid dat jy nog vir baie lank so sal dink. Jy is nie baie mal oor jou boetie nie en ek kan jou nie rerig blameer nie. Hy challenge jou meer as wat ons seker ooit sal besef. Jy is ook ons sensitiewe kind. Die een wat huil oor sy kat wat dood is en sy niggie wat nou hopeloos te lank weg bly. Maar as mamma huil oor die simple hond op die tv wat doodgaan, dan vra jy hoekom mamma se wange nat is.

Jy verower die een hart na die ander een met jou anderse slimheid en skaam glimlag. In Tansanië sit jou tannie Somaré wat wens jy was nader. Onder in Jeffrey’s sit jou niggie en jou tannie wat jou diep-diep verlang. Jy is jou nefie en boetie se klein hero – so sonder dat jy dit weet. Hier in Otjiwarongo is ‘n oupa en ouma wat jou aangeneem het as hul eie en dan praat ek nie eens van ons Duitse tannie Sybille wat vir jou net so lief is soos vir haar eie nie. My hart bons nog steeds elke keer as jy by die skoolhek uitkom. Hoe is dit moontlik dat jy my mamma noem?

Rocco, ek weet nie hoe om dit anders te sê nie, maar jy, ou groot seun, vir jou sal ek vure doodslaan en berge klim. Vir jou, is ek bitter baie lief.

Lekker verjaar ou seun.

Personal Posts

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post