My Nalatenskap
boy_mariette-du-toit-photography

Ek is nie ‘n groot aanhanger daarvan om jou hele lewe op sosiale media te plaas nie, hoewel die sosiale-media gurus dit ten sterkste aanbeveel om jou tribe te bou. En ek sien dit keer op keer – my persoonlike posts doen baie beter as enige van my ander posts. Die opvangs-area van ‘n persoonlike stukkie geskrewe strek oor grense en kulture terwyl ‘n stuk oor ‘n fotosessie net hulle bereik wat my of die modelle volg. 

Die laaste paar dae is ek maar tranerig en dit vat nie veel om die krane oop te draai nie. ‘n Video van ons Ami tydens haar eerste revue en ek skree. Ek probeer American Underdog so tussen Alexander en Rocco se gestoei op die banke kyk, en kry dit wraggies reg om so te huil dat Rocco vir my vra hoekom daar water op my wange is. ‘n Foto van my hond wat al 2jaar lank in hondehemel is, en ek HUIL. My kleur-profiel sê ek is van die minder emosioneles onder ons, but I beg to differ.

Maar om terug te kom na sosiale media en al hierdie emosies… Maandagaand val ek moeg in die bed en sien ek het 5min om te scroll voor my slaaptyd. In daardie 5minute lees ek van ‘n mamma wat die nuus gekry het dat haar seuntjie van 3 verlede week die een diagnose gekry het wat niemand ooit wil kry nie. Jou kind se kanker het versprei – ons kan niks vir hom doen nie. En ek huil. Kyk, ek huil, want hier in my eie huis is ‘n amper-driejarige. Ek scroll deur haar “feed” en vir 5minute sien ek haar memories, haar mooi, haar seer. En ek wonder hoe maak mens oor ‘n jaar as daai lyfie weg is, en jy kom op hierdie mooi af…. Huil jy elke keer? Haal jy dit af? Of raak dit makliker? Of verlaat jy eenvoudig die wêreld van sosiale media?

Vanmiddag sit ek by Alexander terwyl hy slaap en scroll weer so 5minute en lees van ‘n Mamma wat skielik weggeneem is. Nodeloos om te sê loop die trane onmiddelik. Ek gaan op haar profiel en sien die baie foto’s saam met haar man en seuntjie. Van hulle nog net 2 dae terug geplaas. Die skielik van haar afsterwe vang my. Die seuntjie wat skielik sonder sy mamma is.

En ek besef dat my kleur profiel wraggies verkeerd moet wees. Maar ook dat daar tog ‘n plek is vir hierdie memories. Vir hierdie stories. Ek pes dit as mense vir my stories aanstuur van slegte goed wat gebeur het. Ons word omring met soveel aaklige werklikhede. Ek wil wraggies nie my dag begin met foto’s van ‘n klomp boosdoeners of ‘n boer wat oor en mik geslaan is nie. Ek weet dit gebeur. Ek weet dis ‘n werklikheid. Maar ek verkies om myself te omring met mooi stories. Met memories wat ek wil onthou. Facebook en Instagram se stories sal mettertyd nie meer daar wees nie. Teen die tyd wat my driejarige 12jaar is, sal my memories en foto’s dalk nie meer daar wees nie. Maar ‘n meer permanente verblyf vir my stories is op my webtuiste. Of hier op my rekenaar waar die oorsprong van soveel gedagtes lê. En dis waarop ek fokus – dat as ek vandag hierdie aarde moet verlaat, dat my seuns ‘n skatkis vol herhinneringe sal hê die dae as hulle oor my wonder. Ek maak sommer onmiddelik ‘n lys van foto’s en stories wat ek moet uitdruk en skuif daai fotoboek wat ek al vir só lank beplan na bo-aan my lys.

So plaas maar jou foto’s. Jou gedagtes. Ek dink hulle is mooier en meer kosbaar as die talle nuusberigte, covid-gevegte en rassehaat wat ons so maklik verswelg. Ek gaan verseker probeer om my naletenskap op die groot www so getrou as moontlik aan myself te hou. En intussen oorweeg ek dit baie sterk om nog ‘n kleur-profiel toets te doen, want die vet weet, as ek dan nie emosioneel is nie, waar kom al die trane vandaan?

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post