Laas & Burger Families
Vir Google se onthalwe moet ek altyd in Engels skryf. Beter SEO, beter vir my website, groter reach ens ens… maar ek dink, ek dink hierdie een doen ons in Afrikaans.
Hoe weet mens ooit dis jou laaste een? Ja, daar is seker gevalle wat jy ‘n defnitiewe datum het vir verandering en dan werk mens op ‘n kalender en jy weet – hierdie is my laaste dit of dat. Met universiteit vakansies was ek altyd meer as deeglik bewus van hoeveel dae nog oor is.. dis my laaste Maandag by die huis of o wee, my laaste braai!
Dalk raak mens minder bewus hoe ouer mens raak of dalk is dit die gejaag wat maak dat ons net nie meer oplet nie. Hoe ook al sy, hierdie laaste het my baie later eers getref.
Beide Marina en Almerene ken ek al van skool af. Otjiwarongo is ‘n klein dorpie en al is mens jonger of ouer, is mens tog maar bewus van mekaar. Ek en Marina was ook in dieselfde koshuis op Universiteit en ons Namibiërs neig maar om te weet waar die ander woestyn bewoners hulself bevind.
Vir Almerene het ek al dikwels voor die kamera gehad. Meestal met skool geleenthede, want ou Willem trek sy hardloop skoene aan as hy hoor daar kom ‘n foto sessie. Maar hierdie was die eerste keer wat ek die hele Laas gesin voor die kamera gehad het.
Dit was ‘n familie sessie soos baie ander. Die kinders moet skoon bly, want wie gaan vir ouma verduidlik hoekom boetie se broek al op die eerste foto vuil is? Almal moet gehoorsaam wees terwyl die energie vlakke selfs die turksvye se dorings stomp skaaf. Maar ons kom deur dit en kort voor lank is ons oppad na die Burgers se tuiste waar ons die tweede gedeelte wil doen. Soos altyd het ek die son baie mooi dopgehou en die sessie geboek rondom golden hour. Maar op hierdie een Saterdag, is daar wolke. Vlies wolkies, maar wolkies wat dinge skielik laat verdonker. Ek besef ons gaan nie ‘n dadelboord sessie kan doen nie en my gemoed sak. So met die inry by die Burgers oppad boord toe, besef ek, hier het dit gereën. My gemoed lig… water!
Ons probeer nog so paar boord foto’s, maar dis net te donker. Ek draai om – by die dam is dit lig… kan ons probeer?
Ek hoef seker aan niemand te verduidelik dat my kamera eers begin WERK het toe die eerste kind water toe mik nie. Elke kreatiewe selletjie in my spring orent soos ‘n speedcop as hy ‘n BMW gewaar. Dis die einde van die sessie, mamma en pappa is tervrede met die foto’s wat geneem is, so nou kan die kinders maar weer kinders wees. En hierdie fotograaf kan neem!
Dis reeds laat toe ek die pad huis toe vat en ek begin wonder wanneer ek weer hierdie pad sal ry. Blykbaar nie te vinnig nie. Maar vir nou, nou is ek dankbaar vir nog een laaste sessie so saam met die Laas & Burger gesinne.
CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION