Francois & Monique | ‘n Somer Plaas Troue
Francois & Monique Wedding blog cover

Mooier as die mooiste Mielieland

Dis sonbesie warm toe ek uit die bakkie klim om die hek oop te maak. Al wat beweeg is hierdie raserige goggatjies se vlerkies waarmee hulle lawaai. Verder is dit stil-warm. Ek ry ‘n oewer groen kronkel pad, want dis net langs ‘n rivier waar dit so groen en ruig kan  wees. Maar dis net ‘n plaas. Geen rivier in sig nie. Wat ‘n ongelooflike voorreg om hier te kan boer? Na ‘n paar kilometer van Tsumeb-mooi, kom ek op ‘n trop spierwit perde af wat vir my wag. Ek kannie help as om te wonder hoe mooi dit moet wees om hierdie geweste op die rug van ‘n perd te verken nie. Die hitte is verlammend warm, maar ek stap op na die tented camp waar die manne besig is om aan te trek. Dis ‘n gesig wat my elke keer laat glimlag. ‘n Boer wat ‘n knoopshemp (in hierdie hitte) tot bo moet knoop omdat sy amper-vrou dit goed gedink het om vir hulle leer strikdasse te koop. En dan moet manne, wat nog nooit verstaan het waarvoor kruisbande nou juis is nie, probeer om hul kruisbande vas te maak… Sonder uitsondering laat dit my altyd lag. Na die gestoei kan ek sien die manne kry swaar en ek vra terloops of hulle nie ‘n ou biertjie het om mee af te koel nie. Ek word bedank met groot glimlagte en manne wat maar te graag saamwerk vir foto’s wat nou ook nie eintlik hul sterk punt is nie.

Van hier af verdwaal ek ‘n halfuur lank. Ek was nog nooit ‘n groot aanhanger van google maps of enige ander GPS in hierdie mooi land van ons nie. Elke keer as ek die simpel ding reset, dan moet ek verder ry. ‘n Goeie 15km van my bestemming af probeer ek bel maar opvangs tussen my en Monique is hopeloos. Ek weet wel – eks lankal verby die plaas en ek is laat. En laasgenoemde werk nie vir hierdie beplanner nie. Dit maak my liries as ek moet wag en gooi my sonnestelsel van sy pool af as ek self laat is. Ek daag uiteindelik by Monique en haar span op, maar hier is dit so rustig, ek kon maar nog verdwaal het. Monique babbel en lag terwyl sy voorberei word vir die groot oomblik. Daai oomblik as sy die rok oor haar kop trek en die prentjie voltooi is. Terwyl hulle besig is, gryp ek al die bruid se mooi goete om foto’s te neem, maar ek het ‘n hindernis baan elke keer as ek van posisie verskuif. Die plaas waar Monique aantrek het ‘n koshuis vol honde. Dis groot, dis klein. Dis lank en dis kort en party is ekstra spesiaal groot met baie, baie , baie kwyl wat ruim uitgedeel word. Nou almal wat my ken, weet, ek is baie lief vir honde. Maar ‘n fotograaf wat reeds verdwaal het, wat sukkel om spots te kry vir foto’s en wat dan elke keer as sy op haar knieë afsak om ‘n foto te neem, hard grond toe gebring word met ‘n goeie skoot nat liefde – dit sukkel maar so neffens. Sonder dat ek dit beplan het, is hierdie gedeelte van my fotografie toe sommer vinnig verby en begin ek fokus op die res. In die kamer is Monique reg… dis tyd om daai rok oor haar kop te trek. 

Asems word opgehou en trane word saggies afgevee. Is dit nie wonderlike wat ‘n trourok aan ‘n vrou doen nie? Dis asof sy skielik gloei met purpose. Dis asof sy instinctively weet – ek is mooi, ek is vrou en ek is syne. My kamera begin werk en vir die res van die aand het hy hard gewerk om by te bly.

Dis nie die eerste troue wat ek afneem waar die seremonie onder ‘n boom geskied nie. Dit is wel die eerste keer wat die boom omring word deur eindelose mielielande. Rye en rye mielies is getuie toe Francois en Monique trou aan mekaar beloof. Terwyl die dominee praat, baljaar die voëls in die alamintige kameeldoring waaronder ons lafenis vind. Elke keer as ‘n briesie stadig deur die plantasie kruip, ritsel die blare in afwagting. Ek neem meer foto’s tydens hierdie seremonie as wat ek nog ooit tydens ‘n troue se seremonie geneem het. Ek kan eenvoudig nie genoeg kry van hierdie mooi nie. Ds De Vos praat Woord en die Woord praat met ons. Ek sien ‘n paar knikke, maar ek merk ook die trane. So saam met die boom se grootsheid, die statige mieilies wat soos sodaatjies waghou, preek hierdie Ds van Grootfontein ‘n Woord wat plak. Francois en Monique se beloftes aan mekaar laat die laaste harde boer krummel en ook hulle kug verleë oor die son wat dan nou so sleg in die oë skyn. 

Ek jeuk om tussen hierdie mielie lande in te vaar vir die foto’s. En dit stel nie teleur nie. Die son maak dit vir my moeilik met tye, maar ons wikkel en draai tot ons angles reg is. Ek los die bruidspaar en hul vriende vir ‘n laaste koue bier en ry na die venue toe. Dis ‘n skuur. Maar dis nie meer ‘n skuur nie. Dis die lelike eendjie wat swaan geword het. Dis ‘n fees van liggies, yster, sink en hout. Die son wat sy laaste strale deur die agter deure gooi, die kinders se gejubel op die springkasteel, boere wat kou aan sosaties en ‘n koue enetjie klink… ek weet… vanaand het ek te veel foto’s. Met die stop by die skuur sien ek die bale. Ek besef dat ek hierdie moet gebruik. Ek bel vir Francois en sê – sluk daai bier, julle is nog nie klaar met foto’s nie. En hierdie laaste foto’s so in die laaste goue strale van Saterdag 25 Februarie is my gunsteling foto’s uit Francois en Monique se pragtige dag. 

Vir my, is die mooiste gedeelte van die dag verby. Van hier af, is dit vastrap en dans. Dis partytjie tyd, kuier tyd. Self Ouma word dansvloer toe gelok en ook sy wys dat Oumas kan foxtrot, stamp en dans. Dis ‘n gejubel en ‘n gelag. Francois loop kwaai deur met sy speech maar die Pa’s staan in en dit word oomblikke om te onthou. Die kos smaak vorentoe en toe die DJ se Jukebox afsit en self begin sing, toe is die aand volmaak. 

Hierdie Tsumeb-Grootfontein troue se stof sit nog aan my skoene. Die reuk van mielies en sosaties nog vars onder my neus terwyl ek Francois se lag soos gister onthou toe hy vir die hoeveelste keer besef dat dans nie aartappels plant is nie. Dis ‘n dag wat ek met goeie herhinneringe sal onthou, ‘n dag vol liefde, lekker lag en mooi mense. En aan die oom wat gesien het my tong plak aan my verhemelte vas en vir my ‘n yskoue Coke in die hand gestop het – dankie.

Francois en Monique – ek luister altyd musiek terwyl ek edit, maar toe hierdie song gister middag op my playlist beland, het ek geweet – dis julle song. So hier is ‘n baie bekende song om mee af te sluit, maar ook my wense vir julle huwelik.

I hope you never lose your sense of wonder,You get your fill to eat but always keep that hunger,May you never take one single breath for granted,God forbid love ever leave you empty-handed.I hope you still feel small when you stand beside the ocean,Whenever one door closes I hope one more opens,Promise me that you’ll give faith a fighting chance,And when you get the choice to sit it out or dance.
I hope you dance…
I hope you dance…
 
I hope you never fear those mountains in the distance,Never settle for the path of least resistance,Livin’ might mean takin’ chances, but they’re worth takin’,Lovin’ might be a mistake, but it’s worth makin’,Don’t let some Hellbent heart leave you bitter,When you come close to sellin’ out reconsider,Give the heavens above more than just a passing glance,And when you get the choice to sit it out or dance.
I hope you dance… I hope you dance.I hope you dance… I hope you dance.
 

AS DIT WARM IS, KNAK 'N TAFEL

DIE ROK, DIE BRUID EN DIE HONDE

VAN ZYL TROUE

SKUUR KRY 'N NUWE BAADJIE

AS DIE MIELIEPLANTASIES JUIG

Francois en Monique se Bruilof

DANKIE

Ceremony & Reception- Plaas Bergen

Ds De Vos

Dress Designer & Maker – Antoinette Kotze

Groom & Groom’s Men Leather Extras – Leon Engelbrecht Designs

Planner- Dragonfly Events

Hair & Make Up- Antoinette Kotze

DJ- Wayne Blaauw

Catering: Herman en Wilma Oosthuizen

Table Décor – Dragonfly Events

Photographer – Mariëtte du Toit

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post